Tuesday, January 16, 2007

Genesis 1-11

Ek het onlangs weer 'n slag Genesis van voor af begin lees. Hoofstukke 1 tot 11 het my baie aan die dink gesit, oor waar die verhale vandaan kom, en hoeveel daarvan letterlik so gebeur het.

Neem Noag as voorbeeld. Dis tog sekerlik nie waar dat die HELE Aarde oorstroom het nie, so was dit net 'n lokale vloed, of is dit 'n verhaal soos Adam en Eva wat nie noodwendig eens gebeur het nie, maar 'n boodskap wil bring (ek weet daar is baie mense wat sommer al op die Adam en Eva punt met my sal stry)?

En wat van dele soos Genesis 6 (hierdie kom uit die ou vertaling):

1

TOE die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is,

2

sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.

3

Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.

4

In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.


Reuse wat kinders is van hemelwesens (seuns van God in die ou vertaling)!? Wie's hierdie hemelwesens? Dit klink soos een of ander Griekse verhaal uit die mitologie.

Genesis 10: 20-27 (Noga en sy wingerd) lyk ook bietjie soos 'n storie wat jare later opgemaak is om haat te stook teen die mense van Kanaän.

Dis asof die verhale van Genesis 1-11 lees soos daardie kinderverhale wat eindig met iets soos "en dis hoe dit gekom het dat hasie se stert so kort is". Die boodskap daar agter is duidelik, maar is die stories nie dalk aangedik en aangepas soos hulle oor die eeue vertel is, juis om die boodskap duideliker te maak nie?

Of is ek heeltemal buite orde en dink ek te veel hieroor?

13 comments:

johan swarts said...

Ek sal 'n tong in die kies wil waag en sê jy dink te min daaroor ;)

As iemand met jou oor Adam en Eva stry, sal hulle eers moet bewys dat mense dinge kon neerskryf voordat hulle bestaan het, of voordat skrif bestaan het.

Nie dat dit die nie-bestaan van God / 'n god bewys nie. As iemand fiktiewe dinge oor my skryf, beteken dit immers nie ek het nooit bestaan nie.

Do Kwang said...

http://en.wikipedia.org/wiki/Nephilim
Ek sal ook vir jou my copy van die Boek van Henog leen, waarin die hele storie baaaie lank uiteengesit word.

dorothy said...

if you read the bible as a literal text it's going to come across just as it is - mythology.

Pienk Zuit said...

Ek glo self redelik sterk mens moet dit nie letterlik lees nie, dis nie waarvoor Die Bybel daar is nie. En ek het glad nie 'n probleem daarmee nie, ek kry nog steeds die boodskap wat ek moet daaruit.

Ek let eintlik net op dat sommige goed in Genesis 1-11 so way-out is dat dit vir my amper nie pas by die res van Die Bybel nie. Dele wat geen obvious boodskap oor God het nie (soos die deel oor reuse).

Pienk Zuit said...

Dankie Kwang, dit sal dalk interessant wees.

Maksideem said...

Dick, van die os op die jas. Ek sien jou avatar is jy wat scuba.

Ek het die eerste week in Januarie ook 'n scuba kursus gedoen, en nou is my ore baie seer. Eintlik net my linker oor.

Ek gooi oordruppels in, dan verdwyn die pyn, net om aanstons weer sy pynerige opwagting te maak.

Ek besef jy's nie Murray Janson nie, maar as jy raad kan gee, is dit mees welkom.

Pienk Zuit said...

Ja Roelie, ek scuba. Ek het selfs 'n advanced kwalifikasie, maar hel, om dit te probeer stretch na 'n mediese graad is bietjie erg. Gaan sien 'n dokter! My raaiskoot is dat jy middeloorinfeksie of so iets het (my gebrek aan mediese kennis raak seker nou duideliker). Hoop nie dis te ernstig nie, dit sal jammer wees as jy moet ophou scuba daaroor.

Anonymous said...

Ahoi,ek's bly jy bring vandag relegie op (no pun intended).

So ruk terug het die Jappanese uitvinder van instant noodles gesterf en toe soos dit maar gaan op wikipedia kom ek eventueel op hierdie stukkie religieuse kreatiwiteit af ...

http://en.wikipedia.org/wiki/Flying_spaghetti_monster

Minter
(wat nie meer kan inlog op blogger nie)

maeree said...

interessant genoeg het byna elke antieke kultuur 'n vloed verhaal (oor alle kontinente). en daar is baie ooreenkomste tussen die verhaal van noag en die gilgamesh epos. dit kan óf 'n wêreldwye vloed beteken, of 'n oer-mite.

Jeremiasz said...

Joseph Campbell praat uitvoerig hieroor in The Power of Myth, 'n reeks interviews wat hy saam met Bill Moyers gedoen het. Maar ingeval jy dit liefs in 'n boek wil lees, is sy driedelige The Masks of God jou die nodige uiteenlegging verskaf. Mites is mites, en hulle is waar in (obviously) die mitologiese sin. Hul historiese waarheid is heeltemal nie belangrik nie.

Jeremiasz said...

Jammer, ...SAL jou die nodige uiteenlegging verskaf.

Pienk Zuit said...

Jislaaik, dit moes soveel makliker gewees het 20 jaar terug toe die kerk presies vir mens gesê het wat waar is en wat nie. Nou moet mens oor alles dink.

Do Kwang said...

Hoewel vloedverhale wyd voorkom, is daar baie goeie redes om te vermoed hulle is almal afgelei van die Mesopotaamse weergawe, eerder as dat hulle op 'n wêreldwye vloed dui. Die Mesopotaamse weergawe is al in die derde millennium vC geskryf en is gekomponeer deur mense wat langs die Tigris en Eufraat gewoon en van vloedboerdery afhanklik was - hulle moes dus reg langs die rivier bly sodat die jaarlikse oorstromings slik (sp?) oor hul landerye kon spoel. Daar was egter om klimaatsredes elke vyf of ses jaar 'n ekstra erg oorstroming van die riviere, wat hul hele dorpies weggespoel en die landerye verwoes het, met die gevolg dat vloede en oorstromings 'n geweldige sterk rol in hul verwysingsraamwerk en hul mitologie gespeel het. Vandaar dat hulle 'n vloed as die grootste moontlike ramp uitgebeeld het.
Interessant genoeg was dit egter die Hebreeuse Noag-verhaal wat die eerste een was om 'n morele dimensie aan die storie te koppel - in al die ouer weergawes word die mensdom verwoes omdat hulle rasery die gode se slaap versteur ens. In die Noag-verhaal kry ons die eerste keer sprake van sonde en straf, wat dalk op 'n morele vooruitgang dui.