Thursday, November 30, 2006

Hoe dinge werk

Ek is mal daaroor om uit te vind of te leer hoe iets werk, of selfs hoekom dit ophou werk het. Do Kwang het 'n interessante paar vrae oor die natuur gehad, wat my nogal bly maak. Ek hou daarvan as mense vrae vra. Dis ook die groot in ding om deesdae vrae te vra oor wat jy glo, wat politici nou weer aanvang en selfs oor wat tog nou rerig in die verlede gebeur het. Maar daar is te min mense wat net wonder oor die wêreld rondom hulle. Hoekom is die lug blou? Hoekom kyk my DSTV skottel net in een rigting, wentel satelliete dan nie om die aarde nie? Hoekom maak my mikrogolfoond vonke as ek die vurk saam met my bord kos daarin sit?

Vra die vrae, en probeer antwoorde kry. As mens weet hoe iets werk kan jy moontlik 'n beter een bou. As jy weet hoe iemand dink kan jy hom dalk oortuig van jou standpunt, of oortuig raak van syne. As jy weet wat iemand glo kan jy dalk in vrede met hom saamleef.

3 comments:

Marissa said...

Die probleem is dat die mense met die antwoorde dit dikwels nie op 'n verstaanbare of verteerbare wyse vir leke kan aanbied nie. Dan voel die leke te simpel om weer vrae te vra.

Pienk Zuit said...

Ook seker waar. Maar dan moet mens aanhou vrae vra. Iemand wat nie iets so kan verduidelik dat iemand anders dit verstaan nie, weet gewoonlik self nie genoeg nie en probeer dit wegsteek met 'n swak verduideliking.

Dis ook iets waarop baie swendelaars en bedriërs staat maak: dat mens te skaam is om meer vrae te vra en nie wil dom lyk nie.

MARGIE said...

Ek stem vir meer vra vrae. Soos hoekom gaan 50 000 mense daagliks dood in Afrika weens wanvoeding en wat kan Klaas daaromtrent doen? 'n Swaar voorbeeld, ek weet, maar as meer mense begin dink en vra vrae oor die dinge wat hulle na aan die hart lê, sal ons wêreld heel ander lyk. Cool post. :)