Monday, August 14, 2006

Skattejag in die bos.

"10 seconds!". "5,4,3,2,1,GO". En daar hardloop ek en Wim die bosse in Jonkershoek in. Skielik besef ek dat ek seker op my kaart moet kyk waarheen om te hardloop, aangesien ek en Wim nie dieselfde roete doen nie, en ek hom in elk geval nie kan vertrou nie. Na al die jare kom die vaardighede wat ek as Presidentsverkenner geleer het uit eindelik handig te pas, en ek reken ek is darem min of meer op die regte pad. Tot ek aankom waar die eerste kontrolepunt moet wees, en niks kry nie. Daar vind ek ook vir Wim, wat rondhardloop soos 'n dassie wat 'n witkruisarend se skaduwee gesien het, op soek na dieselfde kontrolepunt. Ons besluit toe maar dat daardie punt gegaps is en hardloop die berg op na ons verskillende volgende punte. 'n Uur, en 4,5 km later kom ek redelik moeg, en effe nat, by die finale kontrolepunt aan.

As jy nou wonder wat de ongeluk ek nou net beskryf het, dit was 'n oriënteringsresies. Oriëntering is soos landloop en skattejag gemeng. Dis soos rally ry, maar net te voet. Jy kry 'n kaart (soortgelyk aan die een onder) met 'n roete wat jou die berge en bosse in vat, en dan probeer jy die roete so gou as moontlik aflê.

Die roetes wissel van kort (omtrent 2 km) tot lank (amper 5 km), en van maklik tot moeilik. Om seker te maak jy gaan sit nie net agter die naaste bos, en verskyn dan weer later by die eindpunt in 'n rekord tyd nie (a la ), moet jy by kontrolepunte aandoen en jou kontrolekaart pons met die pons wat by daardie punt hang.
Die punte is meestal effens weggesteek (hoe ver weggesteek hang af van die moeilikheidsgraad van jou roete), en dis waar die skattejag ellement inkom. Die persoon wat al die punte in die vinnigste tyd kon besoek is die wenner; eenvoudig en groot pret. Die volgende wedren is in Grabouw op die 10de September. Wie gaan saam?

(Ek het ongelukkig nie my kamera saamgeneem nie, so die foto's is m.b.v. google image search gekry)

10 comments:

arcadia said...

hoeveel mense neem deel aan so 'n race? en wat wen mens?

persoonlik mis ek die dae van lantern-bekruip.

Pienk Zuit said...

Mens kan in spanne deelneem (hierdie naweek was daar 'n span van seker 10, waaronder 'n swetterjoel kinders), maar die ernstige deelnemers neem alleen deel. Dit wissel ook hoeveel mense in totaal deelneem, Saterdag was daar nogal heelwat. Die prys is die oefening wat jy kry in die vars lug daar buite, en jou naam kom op die website. Weet nie of daar pryse aan die einde van die jaar is nie.

Laterns bekruip was van die snaakste tye wat ons gehad het in die Voortrekkers. Mede trekkers van weleer kan dit maar hier beaam.

Willem said...

As ek alles kon vertel wat die Voortrekkers my geleer het. Soos toe ek as Sub B seuntjie by die meisies in hulle kamer gaan kuier het en toe in die kas weggekruip het. Die juffrou vang my toe daar en slaan my so uit die kas uit. "Dis sonde om in die aand by meisies te kuier," het sy gegil ...

arcadia said...

klink na pret.

ek was vir net drie weke 'n voortrekker. sad storie.

Maksideem said...

Is dit die legendariese Wim van die Berg en Toerklub faam? Die sendeling van Sasolburg?

Wow, hoe gaan dit met die man?

Dai said...

dit klink verskriklik heerlik. Hoe sluit mens aan?

Pienk Zuit said...

dai - pitch net op, jy hoef nie aan te sluit by 'n klub aan die begin nie. Click op die Grabouw link hier bo vir die Peninsula Orienteering Club se bladsy, hulle het meer inligting.

Karen Little said...

I've heard of this curious pasttime before, and have always thought it might be lots of fun. How to I find out where they're doing this kind of thing in Gauteng?

Pienk Zuit said...

You can go to the SA Orienteering Federation's website. They have links to the regional clubs (in the menu on the left), and you'll find a Gauteng one on there.

Pienk Zuit said...

Update: Ek het nou net die resultate van my wedren per vonkpos gekry. Soos julle kan sien was ek tweede op tyd (1:02:28), maar gediskwalifiseer omdat ek punt 8 gemis het (beginnersfout):

Course: Red Length: 4500m Climb: 230m (Easy)
----------------------------------------------------------
Pos. Competitor Category Club Time Points Comment
----------------------------------------------------------
1 Hugo van der Merwe WPASS 00:51:57 358
2 Chris Legg M60 PenOC 01:05:50 282
3 C.Lavery & G.Chennells UCTMSC 01:08:15 272
4 Ruzanne Harris 01:28:20 210
5 Stuart Carrigall 01:34:30 196
6 J & T group 01:40:38 184
7 Pieter Avenany & Heleen Mills 01:54:05 163
DSQ Marauders 02:51:30 0 Control 8 missing
DSQ Liza Burger Group 03:04:50 0 Control 8 missing
DSQ Pienk Zuit 01:02:28 0 Control 8 Missing