Wednesday, July 26, 2006

Die stuk laat my stik

Daar is iets wat my deesdae in my nagmaal broodjie laat stik, en dis die frase " 'n stuk " wat deur predikante gebruik word wanneer hulle van emosies praat. "Ek kom na julle toe met 'n stuk seer". Die doel daarvan is waarskynlik om die emosie wat beskryf word as iets fisies voor te stel, iets wat in 'n boks gesit kan word en vir mense gewys kan word, of vir God gegee kan word en vergeet word. Ek het dit nou al ongelukkig begin assosieer met "dominee taal", en soms sit "dominee taal" my bietjie af, want dit klink nie vir my so eg as wat dit moet nie.

As daar 'n dominee hierdie lees, kan hy my dalk inlig waar dit vandaan kom? Is daar een of ander dosent by die kweekskool wat dit gebruik en so aan die predikantekorps oordra, of kom dit uit een of ander teologiese boek wat net predikante lees? Ek twyfel of daar dominees hier lees, so kan iemand wat 'n dominee goed ken miskien vra en die antwoord weer hier kom gee?

NS Ek kom na julle toe met 'n stuk skuld, en dit is dat ek "hy" gebruik wanneer ek "sy" ook bedoel. So jy's welkom om sy te lees oral waar ek hy skryf, bloot omdat ek nie letterkundig vernuftig genoeg is om die hy te vermy nie.

13 comments:

Do Kwang said...

Dikwels kan mens die "hy" vermy deur na die tweede persoon of na die meervoud oor te slaan.
Bv: "As 'n dominee hierdie lees, kan jy my dalk inlig . . . "
of
"As enige dominees hierdie lees, kan een van hulle my dalk inlig . . . "

Pienk Zuit said...

Dit is met 'n groot stuk dankbaarheid wat ek jou comment lees Prof. Ek het die "jy" daar in gehad, maar dit het darem net te erg geklink om 'n dominee as "jy" aan te spreek, veral as ek nie weet wie dit is nie. Maar "u" sou darem ook te formeel gewees het op 'n loslit blog soos myne. Toe gaan ek maar vir die "hy" en marginaliseer eerder die feministe as die dominees.

maeree said...

geliefde broeder, dis met 'n groot stuk teleurstelling dat ek waarneem dat jy kies om eerder feministe te marginaliseer as dominees.
ek ken ene wat ek vermoed redelik gereeld jou blog lees - gaan haar aanmoedig om te reageer. (ek gebruik "haar" wanneer ek eintlik ook "hom" bedoel. so jy's welkom om "hom" te lees oral waar ek "haar" skryf.)
wat het van prof geword?
en lammervanger?
het hul ma's op hul blogs afgekom?

Freddy said...

Eks dan seker die haar.

Pienk Zuit, ek dink onvermydelik altyd aan Durban as ek hier lees. Toe ons klein was, het ons daar gaan vakansie hou en spookasem geeet. Dit was soet en pienk.

Om jou vraag te beantwoord: Nee, genade (let op die Ds-taal), ek het n^erens so by enigiemand, op kweekskool anyway, geleer praat nie.

Op stuk van sake, ek gril ook vir die idee om my emosies stuk vir stuk te moet deel.

Praat al jou Di. so? Of net 'n stuk of 2?

Ek KEN ene wat dit doen. Hierdie betrokke prediker hou van detail, feite, syfers, alles fisiese goed. Linkerbrein-stuff. SO, vir hom om te se^ hy deel 'n stuk seer, sal wees om regtig openlik sy emosies bloot te le^.

Ns.: Ek is van mening dat bloggers op gelyke voet verkeer, dan nie? Maak titels dan saak, of hoe? Wat dink jy, Prof? :-)

Dai said...

wat van 'n stuk derm of 'n stuk hart of 'n stuk tong. dis mos senuwees, liefde en 'n voet in die mond.

Pienk Zuit said...

Dankie Freddy! Dis eintlik net 1 Ds by die gemeente waar ons nou is, maar daar was nog een by 'n vorige gemeente in 'n ander dorp. En ek dink nie hulle het genoeg kontak dat hulle dit by mekaar geleer het nie, so toe wonder ek sommer waar hulle dit beide sou geleer het. Ek is van mening dat meer as net bloggers op gelyke voet verkeer, so jy's altyd welkom ja (let op dat ek nou oor die "jy" vir 'n dominee gekom het:).

Maeree - Lammervanger en prof se blogs ondervind tegniese probleme. Ek dink hulle moet maar probeer republish en hoop vir die beste.

Freddy, dit klink of jy die een is wat die geheim van Maeree se identiteit sal kan oplos. Maar eintlik wil ek nie vra nie, want netnou hou sy op om te vertel hoe sy haar man se voete was as ons weet wie sy is. (sorry maeree, ek moes net :)

maeree said...

pwhahahaha. sy voete was. hehe. ek gaan nou vir hom hiervan vertel. (of dalk nie. netnou kry hy idees.)

Do Kwang said...

Ek het baie goeie vriende wat predikante is, van my gunsteling mense is predikante, maar ek sou graag daai persoon wou vind wat e^rens by 'n kweekskool vir al die tokkelokke die woord "post-modernisme" leer, sonder om vir hulle mooi te verduidelik wat dit beteken. Ek sou graag daai ou wou vind, en dan sou ek hom (sic!) graag wou skiet.

Freddy said...

Prof, my lewe is nou valer sonder jou blog.

As jy die ou op kweekskool soek wat ons leer van postmodernisme, dis ALMAL. Maar ekke dink net Dirkie Smit verstaan dit rerig, en hy dink nie ons is quite daar nie.

As ek so na "my" gemeentelede se verstaan van "bekering" en geloof en kerk luister, is ons modernisties en klaar.

Maeree... wie's sy?

Do Kwang said...

Dankie Freddy
As ek ooit weer 'n blog begin, gaan dit volkome anoniem wees - ek gaan skryf as "Die Lesbiese Selfmoordbommer" en geen persoonlike inligting verklap nie.

Pienk Zuit said...

Prof, waar's positiewe denke? Het dit ontplof of het jy doodsdreigemente gekry en toe haal jy dit af? Jou lesers dring aan op die waarheid!

Rendier said...

Heil die leser. Uit my beskeie opinie is dit inderdaad Prof Jurgens Hendriks en Danie Louw wat veral verwys het na die kerk in 'n post-moderne tyd en die hele paradigma skuif. Owergesetseinde stem ek heelhartig met Freddy saam dat Dirkie Smit die slimste persoon by die Kweek is. Dan kan daar altyd verwys word na Ben du Toit se briljante skrywe, "God? Geloof in 'n post-moderne tyd". Dit som as't ware die hele geloof struggle op. Ongelukkig is die boek nie meer in druk nie, maar indien iemand dit vind, sal ek graag daardie kopie koop.

Pienk Zuit said...

Genade, as ek geweet het gekwalifiseerde teoloë lees my blog het ek waaragtig meer interessante vrae gevra. Wees gewaarsku, hulle sal nou meer gereeld gevra word, want ek worstel met baie stukke goed. Dankie aan almal wat comment, ek laaik van gesels.