Monday, June 05, 2006

Praktiese filantropie

Maeree skryf op haar blog hoe hartseer sy is om Swede te verlaat waar sy die afgelope 6 maande gebly het, maar dat sy besef ons het meer kanse om vir iemand anders iets te beteken hier in Suid-Afrika. Dis 'n gevoel wat ons ook in die vreemde ervaar het. Mens word vreeslik patrioties, vertel vir die vreemdelinge daar hoe wonderlik S.A. is en as mens met mede S.A. expats praat is dit baie keer oor jou vorige of volgende vakansie in sonnige S.A. Wanneer jy in S.A. kom vir daardie vakansie voel mens sommer lief vir die mense, dis ons mense; mense-mense. Jy kry daardie gevoel dat jy 'n Afrikaan is, dat " die grond van Afrika die bloed is wat deur my are klop". En dan voel jy dat jy daar in die vreemde is met 'n doel: jy is daar om geld en kennis en ervaring bymekaar te maak om terug te bring en hier 'n verskil te kom maak. Homecoming Revolution doen hul bes om daardie Proudly South African gevoel aan te wakker en sal jou help met alles as jy terugkom, belowe. Dan kom die tyd wat jy vir die finale keer op die aerie klim terug huis toe, sak en pak met 'n container (of ten minste 'n paar bokse) vol van jou Primark en Camden klere, jou Argos dvd speler en TV en miskien selfs 'n paar meubels en 'n kar reeds op pad terug op 'n skip. Jy's opgewonde oor die toekoms wat S.A. jou bied.

Hier aangekom koop jy vir jou 'n huis in een van daardie oulike nuwe toskaanse uitbreidings, nie te ver se ry van jou nuwe werk in die stad nie, en naby genoeg aan jou gunsteling mall. Jy speel gholf elke 2de naweek, gaan Hermanus / Sodwana / Margate / Bosveld toe vir Paasnaweek, en geniet die lewe terug in Afrika. Dan, na 'n ruk, begin jy weer wonder oor daaardie groot verskil wat jy wou kom maak het. Jy wonder hoe jy in die vreemde vriende van allerhande tale, gelowe en velkleure kon gehad het, maar hier in SA het jy nie een swart vriend nie. Jy wonder wanneer jy nou gaan begin om 'n verskil te maak met jou geld en kennis wat jy uit die vreemde gebring het. Of is dit maar net ek?

13 comments:

renklem said...

Ek het nou al baie mense vaarwel gewuif by Heathrow wat vir die finale vlug terug is SA toe en het nog nie een keer gehoor dat hulle 'n verskil wil gaan maak aan enigiets behalwe hul eie lewens nie. En dat jy nie swart vriende het nie? Dan weet ek darem nie wat van die geword het wat jy gehad het voor jy weg is nie. Ek weet myne is nog daar en ek weet ook dat blankes wat nou ewe skielik die eerbare en idealsitiese ding wil doen en gaan "swart vriende" maak, meer irriteer as help. So ek reken jy moet maar jou Argos DVD player uithaal en kyk hoe Michelle Pheiffer in daai fliek 'n hele klas kinders se lewens verander, want dit is net so naby aan die realiteit as jou hoop om hierdie groot verskil in SA te maak. Veral as jou idee van 'n verskil maak is om "swart vriende" te maak, eerder as om jou hande uit jou broeksake te haal en te gaan help sopkombuise beman en community gardens aanplant. My vraag aan jou is nie hoeveel swart vriende jy het nie, want ons het almal, maar wat jy gaan doen aan die armoede wat jou om elke hoek en draai in die maag slaan. Of eerder die rassisme wat nog vaskleef aan jou eie "wit vriende" se onderbewuste. Dit is baie maklik om in 'n bar in te stap en vriende te maak, maar om die punch te vat en te werk aan iets wat jare gaan vat (indien enigsins) om op te los... Verander eerder jou mind set en vergeet van die charity case of "novelty" vriende wat jy wil maak. Ek probeer jou nie uithaal hier nie Richard, ek weet maar net wat van my vriende in SA dink.

Pienk Zuit said...

Goeie punt Rennie, dis nie rerig vir my wat jy uithaal nie. Ek vra maar net die vrae, nie noodwendig om antwoorde vir myself te kry nie.

renklem said...

Ons almal vra vrae as dit by ons geknelde land kom en by ons verantwoordelikheid teenoor ons land. Ek sit steeds op die Moddereiland en dink aan maniere om my eie lot te versoen met die van daardie mooiste land aan die suidpunt van Afrika. 'n Moeilike een inderdaad. En as ons ophou vrae vra, moet ons eerder nie daar gaan bly nie.

Maksideem said...

Dick, hierdie stuk is baie goed geskryf. Geluk man. Dit moet die magnet skool in Baton Rouge se invloed gewees het dat jy so goed skryf.

maeree said...

Ek sukkel met die flippen comments. So as jy 80 kopieë van dieselfde comment kry, delete maar asb. Ons probeer weer...
Ek stem saam met renklem.
Ek was nog altyd so bietjie van 'n "aktivis". Nog nooit regtig gekla oor plekname of akademiese taalkeuses nie. Ek het gedink ek gaan gou-gou vir ses maande Europa toe vir 'n lekker avontuur, dan kom ek terug na my land. Wat my ontstel, is die feit dat ek nou nie wil teruggaan SA toe nie, dat ek graag die grond van Afrika uit my are wil uitkrap, dat ek veel eerder in Skandinawië sal wil sit en kla oor die koue as om in SA mense te probeer inlig oor MIV & Vigs.

Lammervanger said...

Dit is waar Rick. Mense romantiseer die teruggaan/terugkom Suid-Afrika toe... Face it - ons gaan terug Suid-Afrika toe omdat ons 'n lekkerder lewensstyl (lees huis, gholf en braaivleis) soek. Nie omdat ons in townships wil instap en die weg wil wys nie. 'n Mens se eie lewensstandaarde kom eerste (nie dat daar enige iets fout is daarmee nie) en eers dan die sogenaamde verskil maak pogings...

Suid-Afrika bly nog steeds die lekkerste plek om te wees as dit goedgaan met jou. Selfs hier in Oz kom hulle nie eens naby nie. Al wat die mense hier hou is die zero moord en misdaad.

En julle moet comments op my blogbladsy los, ek blog nie verniet nie.

rondloper said...

Richard, ek sukkel self op die oomblik soos Maeree bietjie met die gedagte van teruggaan. Ses maande is so gou verby, en wat dit vir my gedoen het, was om te wys dat daar net soveel, soveel meer is om te sien as wat ek in SA sien. Glo my, ek het al baie lande gesien, en ek het al die hele SA platgery - ek is ook die grootste optimis oor die toekoms daar. Maar ek is ook sommer net selfsugtig, ek voel nie noodwendig dat ek iets moet beteken tuis nie, ek het klaar meer gedoen as baie ander. My gastehuis het die beste human relations in die Karoo gehad, ek het 'n standaard geskep vir ander om te volg. Dis alles goed en wel. Maar die alewige gesoek na iets, dit bly, dis sterker as voorheen selfs. Dis heeltemal persoonlik, dit gaan net oor my, en die reis het die vrae net meer gemaak, soos Rennie ook noem. Ek dink soms dis makliker om net nooit te gereis het nie, dan is jy makliker tevrede met wat jy het.

Pienk Zuit said...

Die tye in my lewe waar ek die meeste geleer het van myself is waar ek in vreemde plekke of saam met mense wat anders as ek dink geleef het. Eers wanneer mens jouself uit jou "gewone" omstandighede verwyder kan jy perspektief daarop kry. Ek dink reis is die beste leerskool wat daar is. Om in Auswitch te staan het my baie meer van WW2 in 'n dag geleer as 5 jaar se geskiedenis op skool. Ek kan baie sulke voorbeelde noem, en ek gaan my bes probeer om eendag my kinders te leer deur hulle te gaan wys, nie net te vertel nie (ek besef ook hoe bevoorreg ons is ja).

Maar dis juis daardie perspektief wat my dwing om mense hier te wil help. Ek glo ook dat persoonlike sukses en ander help nie mekaar uitsluit nie. As ek goed doen kan ek werk skep, of selfs nou en dan my professionele tyd verniet gee vir iemand wat nie daarvoor kan betaal nie. Dis miskien juis die groot planne wat mense het om 'n verksil te maak wat so groot is dat dit hulle verlam, in plaas daarvan om op klein skaal te begin 'n verskil maak. 'n Wyse man wat ek ken, Libo van Aswegen, het altyd vir my gesê: "Sny net eers jou eie gras, dan sal jou buurman naderhand syne ook begin sny, en later lyk die hele straat se tuine sommer beter."

rondloper said...

Jy slaan die spyker op die kop oor leer, ek persoonlik het baie meer geleer die laaste ses maande in vreemde omstandighede as baie jare tesame vantevore. Maar ek voel nie ek het alles geleer nie, dis dalk hoekom dit nou vir my moeilik gaan wees om terug te gaan.

Voetstoots van Tonder said...

Ten eerste, geluk met die post, ek dink dis 'n baie goeie stukkie skryfwerk.

My eie opinie, hier waar ek ook nou al meer as 3 jaar in Londen bly, is dat dit maar net human nature is om te fokus op al die goeie aspekte van die plek waar jy NIE is nie, daarom dikwels die nostalgie, daarom die goeie ervaring wanneer jy vlugtig teruggaan (amper soos 'n vorige liefde: ek dink meeste van ons onthou omtrent 95% of 99% van die tyd net rerig die goeie tye saam, al was daar dan ook "slegte" goed wat ons op die ou end uitmekaar gedryf het).

Maar dis ook human nature om afgestomp te word in die plek waar jy is, om vinnig te verval in die Hermanus/Bosveld/etc trap soos jy beskryf - want die lewe gaan aan, en roetine neem oor. Wat doen ek op my tipiese naweek in Londen? Besoek interessante museums? Trips na oulike pubs in die platteland? Shows in die West End? Shopping op die Kings Rd?
- nie regtig nie: ek gaan meeste Saterdogoggende na dieselfde bakkery toe (hulle ken al my bestelling, en dis lekker, maar dis 'n ander storie), dieselfde Starbucks, dieselfde draffies op dieselfde roetes in dieselfde park etc etc etc...

Mis ek Kaapstad? Ja. Gaan ek Londen mis as ek die dag waai? Definitief. Ek weet dis my lot.

Gaan ek terug SA toe? Waarskynlik. Wanneer? Tyd sal leer. Gaan ek om 'n "verskil" te probeer maak? Nie regtig nie - ek moet met die meeste van die kommentaar hierbo saamstem - charity does after all begin at home. Tensy jy 'n welsynswerker of 'n sendeling is, of Bill Gates, met 'n fortuin wat jou slapelose nagte gee.

En ja, ek is gelukkig genoeg om presies een baie goeie swart vriend te he, een wat op sy dag self klippe gegooi het in Soweto - letterlik. Ons hou onder meer daarvan om vir mekaar growwe rassistiese grappe te vertel, en dan saam te lag oor die humor, want die politiek maak nie meer saak nie. Dis lieflik.

Maar nou begin ek waffle; cheers V

Do Kwang said...

Ek vind hierdie gesprek interessant en is jammer dat ek so laat eers inval. Onthou tog dat ons almal na Suid-Afrika terugkom vernaamd omrede ons met mense soos onsself wil wees - ons mis dit om Afrikaans te praat en op 'n Saterdagoggend Tygervallei toe te gaan. Daar is nie veel hogere motiewe nie - hoeveel mense werk nou regtig in 'n sopkombuis? Of skenk selfs geld vir 'n sopkombuis? Of het vriende wat in 'n sopkombuis eet? En die lewensgehalte in Kanada sou seersekerlik beter gewees het - eerstens is daar bykans geen kans dat jy doogemartel kan word nie, en dit is opsigself 'n wenner.

Pienk Zuit said...

Jy's reg, mens kom terug omdat dit vir jou lekkerder hier is, maar dit neem nie die feit weg dat daar 'n wil by my onstaan het om te probeer help hier nie.

Coffee Break said...

http://www.theexpatconfessions.com