Friday, June 30, 2006

Slurpie Video

Ek het hierdie video nou die dag op Die Burger se webwerf raakgeloop. Ek kry dit nie meer op hulle werf nie (die nuwe webwerf is nie baie gebruikersvriendelik nie, hulle beter dit vinnig regmaak of hulle gaan lesers verloor). So dis is 'n kopie. Dis jammer die kwaliteit is so swak, maar mens kan darem sien en hoor dat daar eintlik niks gebeur het vir so 'n groot bohaai nie.

Salve Moto!


'n Anachronisme as ek al ooit een gesien het. Hierdie ou is die tipe wat mens vinnig moeg maak op 'n trip in Europa. Moeg daarvan om uitgebuit te word, moeg daarvan om gepes te word vir geld. As hy gesien het dat ek hom afneem sou daar 'n woordewisseling ontstaan het wat net sou eindig deur vir hom geld te gee.

Overtaking Prof

Een uit my argiewe. jammer die fokus is so swak.

Wednesday, June 28, 2006

As jy 'n diep genoeg gat grawe.

Rondloper vra op sy blog waar die verste punt op die aarde van Suid-Afrika is. Die punt die verste van 'n sekerre plek op aarde word daardie plek se antipode genoem. Volgends die onderstaande kaart is dit 'n net noord van Hawaii in die Stille Oseaan vir Suid-Afrika. Die kaart is eintlik 2 kaarte, een in swart, nog een in rooi. Die rooie is 'n omgekeerde spieëlbeeld van die swarte, so deur van swart na rooi, of andersom, te gaan kan jy die antipode van enige plek kry. Dis interessant om te sien dat meeste van die aarde se landmassa se antipode erens in die see is. Argenteine en Chillene sal egter in China uitkom as hulle lank genoeg grawe, en van Botswana kan jy tot in Hawaii grawe.



As jy nie mooi die kaart verstaan nie, ek het dit hier gesteel, gaan kyk daar vir 'n verduideliking.

Tydreisiger

Rondloperhy het vir Stepehen Hawking hoor sê hy dink niemand gaan ooit terug in tyd kan reis nie, anders sou ons al tydreisigers van die toekoms af gesien het. Wat sal jy dink as iemand jou meedeel hy kom eintlik uit die jaar 2036? Jy sal dink: "Ja broer, jy moet maar saam met Jacob Zuma 'n sielkundige gaan sien." So wat as ons al tydreisigers gesien het, maar niemand wou hulle glo nie? John Titor het in 2000 op die internet begin vertel dat hy uit 2036 kom en terug gestuur is om 'n oplossing te probeer kry vir die ekwivalent van hulle tyd se Y2K probleem. Daar is heelwat mense wat glo dat hy die waarheid gepraat het, so dalk is tydreise wel moontlik, al is dit eers in 2036.

Monday, June 26, 2006

Grapes of Wrath

Ek het die naweek John Steinbeck se Grapes of Wrath klaar gelees, en ek het dit nogal geniet. Dit was vir my 'n baie interessante blik op Amerika in die Groot Depressie. Dit het my laat dink aan hoe die Afrikaners saamgestaan het in daardie tyd, in so 'n mate dat hulle aan bewind gekom het en apartheid begin het. Dit kon so maklik anders gewees het as hulle nie ten koste van ander saam gestaan het nie, maar eerder ten bate van die hele Suid-Afrika. Ek wonder soms hoe die toekoms verander sou kon word as mens een gebeurtenis kon stop (dis seker hoekom Back to the Future een van my gunsteling flieks van alle tye is). Sê nou maar iemand kon teruggaan en vir Jan Smuts gehelp het om die verkiesing in 1948 te wen, hoe sou S.A. dan gelyk het in 2006? Wat as die Fagan Komissie se standpunt gewen het en die Sauer Komissie verloor het? Sou apartheid ooit begin het? Sou ware demokrasie vroeër as 1994 gekom het?

Of wat as iemand net vir Allan Donald kon gesê het om te hardloop as Klusener roep? Sou Hansie Cronje dan nou nog geleef het?

Peulnael

Peulnael - 'n Woord wat gebruik word om te beskryf dat mens baie ge-eet het. bv "Die skaaprib was so lekker dat ek myself peulnael ge-eet het daaraan." Voor mense begin opgewonde raak oor presies wie die woord eerste uitgedink of gebruik het, dit was nie ek nie. Ek het dit gehoor by iemand wat as Vaalhoek bekend staan op Williston se golf-en-jag-naweek.

Wednesday, June 14, 2006

Grootmeneer

Sir Richard Hadlee is een van New Zealand se beste bouwlers ooit. Sy vriende en spanmaats het hom "Paddles" genoem, klaarblyklik omdat hy groot voete gehad het. Daar is 'n staaltjie wat vertel dat 'n sportjoernalis eendag vir Sir Richard gevra het of dit hom nie pla dat mense hom Paddles noem oor sy groot voete nie. Sir Richard het glo geantwoord dat dit hom glad nie pla dat hy 'n bynaam gekry het omdat 'n ligaamsdeel so groot is nie, en dat nie almal hom Paddles noem nie, sy vrou noem hom Dick.

Tuesday, June 13, 2006

Reisverhale

Soos julle seker al egtergekom het, ek is mal oor travel. Ek is baie jaloers op mense soos rondloper en maksideem, ek wil ook vir maande aaneen. Een van die grootste redes hoekom ek so mal is daaroor is omdat mens soveel snaakse staaltjies het om na die tyd te vertel. Ek begin net al wonder of ander mense my staaltjies soveel geniet soos ek dit geniet om dit te vertel. Ek put genot daaruit omdat dit my toelaat om die situasie weer te herleef. Ek vind dat dit baie soos foto's van jou vakansie is, mense wat nog nie daar was nie is nie eintlik baie geinteresseerd in jou vakansiefoto's nie, maar die wat al daar was geniet dit wel, seker omdat dit hulle dan 'n kans gee om hulle staaltjies van die plek te vertel. So hier is 'n staaltjie vir almal wat al in Italië was:

April 2004: Ons het sopas by Venisië se lughawe geland, en die motor wat ons huur opgespoor. Eerste ding wat ek doen is om my GPS navigasiestelsel in te prop. Dis waarskynlik een van die top 5 goed wat mens kan aanskaf vir jou huwelik as jy in Europa bly (die ander 4 is iets wat ek dalk in 'n ander post moet bespreek). In plaas daarvan dat jou wederhelfte 'n vreemde kaart moet ontsyfer en sê waar om te draai (wat natuurlik tot reuse struwelinge lei), tik jy net vir TomTom jou destinasie in en 'n vriendelik tannie met 'n Britse aksent lei jou tot by die voordeur. Selfs wanneer jy nie na haar luister nie en effe verdwaal soek sy vir jou 'n nuwe roete en bring jou weer op die regte pad. Soos julle kan aflei was ek baie afhanklik van die ding (veral in Italië), en het ek nie eens gesmile toe die ou by die Avis toonbank vir my so 'n belaglike klein A4 kaart met die hele Italië op gee nie, want ons het mos TomTom om ons te help. Probleem is toe net dat die Fiat Punto se sigaretaansteker toe nie werk nie, wat beteken TomTom sit sonder krag. Ek haas my toe terug na die Avis toonbank, en verduidelik vir die man my GPS werk nie as daar nie krag is nie, en dat ek 'n ander motor soek. Hy kyk my so, kyk na die belaglike klein A4 kaartjie en sê "But you're young, and you have a map!".

Die uiteinde was dat ons gelukkig 'n ander Punto gekry het, en dat ons nou nog in Rome in 'n sirkel sou gery het as ons nie krag gehad het vir die Britse tannie nie. As iemand 'n huwelik het om te red in Europa, my GPS stelsel is te koop, met al die kaarte van Europa. Glo my, dis selfs meer werd as 'n skottelgoedwasser.

Monday, June 12, 2006

Nuttelose feit(e) van die dag

Verbeel jou jy sit nog rustig in jou bootjie op Lake Peigneur en visvang, en skielik loop die hele meer leeg asof iemand die prop uit die bad uitgetrek het. Dis presies wat gebeur het in 1980, toe 'n olieboor, wat besig was om in die meer te boor, per ongeluk 'n soutmyn onder die meer raak geboor het en die hele meer se water toe in die myn in gestroom het. Gelukig is niemand deur die maalkolk ingesuig nie, en die myners kon ook almal betyds uitkom. Lake Peigneur is in Louisiana, VSA, naby aan Avery Island. As Avery Island vir jou bekend klink, kyk volgende keer wat jy Tabasco eet na die botteltjie, dis waar elke liewe botteltjie Tabasco vervaardig word.

Thursday, June 08, 2006

Kampvegter, help my!

Ek is huidiglik besig met 'n klein alterkasietjie met my versekeringsmaatskappy Santam. Die kort daarvan is dat hulle besig is om my te skroef, en dat ek nou besluit het om die saak verder te neem. Die lang storie is:
In April van 2005 was ek betrokke in 'n klein ongelukkie met my motor. Iemand anders het in my stilstaande motor vasgery van die kant af. Ek het die saak gaan aanmeld by die polisie en vir Santam gebel. Daar is vir my gesê dat ek die motor kan laat regmaak op hulle koste, en dat die koste verhaal sal word van die ander party en dat my premies nie sal verander nie. So gemaak en die motor is herstel en ek het nie betaal nie, wonderlik! Skip 'n jaar: Verlede maand maak ek toe 'n paar veranderinge aan my polis, en toe kom ek agter dat my premies die laaste jaar hoër is. Dadelik doen ek navraag en word ingelig dat my geen-eis bonus met 2 jaar verminder is tot die geld van die ander persoon verhaal is. Ek kan glo die afdeling wat die eise hanteer kontak om oor hoe die saak vorder. So gemaak word ek toe ingelig dat die vent wat in my vasgery het nie die geld wil opdok nie, en dat hulle nie die moeite gaan doen om die geld van hom af te kry nie, want dit gaan meer kos as wat hulle betaal het. Nou moet ek betaal daarvoor deur premies wat verhoog is. "Jammer meneer, maar dit maak nie besigheidsin om hom te vervolg nie". Nou is my vraag, maak dit besigheidsin om my as kliënt te verloor, en die slegte naam wat hulle kry omdat ek hierdie storie vertel? My volgende stap is om die Kampvegter by Die Burger se hulp te probeer inroep, hopelik kan hulle iets vir my doen. Ek sal julle op hoogte hou.

Tuesday, June 06, 2006

UFO


Geneem uit ons kamervenster, Woking, 2003. Woking se enigste claim to fame is dat dit die plek is waar HG Wells die marsmannetjies eerste laat land het in War of the Worlds. Daar is dan ook 'n pub met die naam HG Wells om te herdenk dat die man juis vir Woking eerste van die aardbol wou laat afvee deur marsmannetjies. Alhoewel hy seker nie te veel teen die plek gehad het nie, want hy het self daar gebly. Steven Spielberg het egter vir Woking van haar regmatige plek op die lys van moet-sien plekke, langs Stratford en Bath, ontneem deur vir Tom eerder in Amerika te laat rondhardloop. Lees meer oor wat die Guardian daarvan gedink het.

Monday, June 05, 2006

Praktiese filantropie

Maeree skryf op haar blog hoe hartseer sy is om Swede te verlaat waar sy die afgelope 6 maande gebly het, maar dat sy besef ons het meer kanse om vir iemand anders iets te beteken hier in Suid-Afrika. Dis 'n gevoel wat ons ook in die vreemde ervaar het. Mens word vreeslik patrioties, vertel vir die vreemdelinge daar hoe wonderlik S.A. is en as mens met mede S.A. expats praat is dit baie keer oor jou vorige of volgende vakansie in sonnige S.A. Wanneer jy in S.A. kom vir daardie vakansie voel mens sommer lief vir die mense, dis ons mense; mense-mense. Jy kry daardie gevoel dat jy 'n Afrikaan is, dat " die grond van Afrika die bloed is wat deur my are klop". En dan voel jy dat jy daar in die vreemde is met 'n doel: jy is daar om geld en kennis en ervaring bymekaar te maak om terug te bring en hier 'n verskil te kom maak. Homecoming Revolution doen hul bes om daardie Proudly South African gevoel aan te wakker en sal jou help met alles as jy terugkom, belowe. Dan kom die tyd wat jy vir die finale keer op die aerie klim terug huis toe, sak en pak met 'n container (of ten minste 'n paar bokse) vol van jou Primark en Camden klere, jou Argos dvd speler en TV en miskien selfs 'n paar meubels en 'n kar reeds op pad terug op 'n skip. Jy's opgewonde oor die toekoms wat S.A. jou bied.

Hier aangekom koop jy vir jou 'n huis in een van daardie oulike nuwe toskaanse uitbreidings, nie te ver se ry van jou nuwe werk in die stad nie, en naby genoeg aan jou gunsteling mall. Jy speel gholf elke 2de naweek, gaan Hermanus / Sodwana / Margate / Bosveld toe vir Paasnaweek, en geniet die lewe terug in Afrika. Dan, na 'n ruk, begin jy weer wonder oor daaardie groot verskil wat jy wou kom maak het. Jy wonder hoe jy in die vreemde vriende van allerhande tale, gelowe en velkleure kon gehad het, maar hier in SA het jy nie een swart vriend nie. Jy wonder wanneer jy nou gaan begin om 'n verskil te maak met jou geld en kennis wat jy uit die vreemde gebring het. Of is dit maar net ek?

Friday, June 02, 2006

Breinknoper

Kyk of jy hierdie kan oplos. Lekker breinknoper om die naweek mee verby te kry.